Ruimtenuus

Herman Toerien

Belangrike stap voor reise na Mars aangepak
Omdat ’n bemande sending na Mars 500 dae of langer kan duur, is dit noodsaaklik om vas te stel wat die impak van langer tye in gewiglose toestande op ruimtereisigers is. Tot dusver het bemanningslede na die Internasionale Ruimtestasie nie langer as ses maande daar vertoef nie.
Twee ruimtemanne, die Amerikaner Scott Kelly, en die Rus Mikhail Kornienko, het egter pas vir ’n verblyf van ‘n jaar op die IRS aangekom.
Die impak van gewigloosheid op hulle sal nougeset dopgehou word.
Boonop word Kelly se tweelingbroer, Mark, op aarde fyn dopgehou om te kyk hoe verskille tussen hom en sy swewende broer ontwikkel. Die tweeling word reeds van voor die lansering gemonitor, en die monitering sal voortgesit word na Scott uit die ruimte teruggekeer het.
Hoewel dit die eerste keer sal wees dat mense ’n jaar of langer aan boord van die IRS sal vertoef, was dit ’n gereelde verskynsel in die destydse Russiese ruimtestasie, die MIR.
Bron: Space.com

Marstuig voltooi marathon
Curiosity het tekens van stikstof op Mars gevind. Stikstof is ‘n belangrike bousteen van lewe.
Die aandag was egter toe op die ouer Marstuig, Opportunity.
Die Opportunity Marstuig van Nasa het pas die volle afstand van ’n marathon op die rooi planeet voltooi. Dit het die tuigie 11 jaar en twee maande geneem om dié mylpaal te bereik.
Opportunity was voor sy jongste prestasie reeds die aardtuig wat die verste afstand op ’n ander hemelliggaam as die aarde kon aflê, en het die rekord van die Russiese Lunokhod 2 op die maan verlede jaar verbeter.
Sedert die aankoms van die meer gevorderde Curiosity op Mars 6 Augustus 2012 op Mars het die kollig weg van Opportunity geskuif, maar dié klein vasbyter het steeds voortgegaan om die mensdom te verstom.
Opportunity se grootste prestasie is egter dat dit ontwerp was om net drie maande “primêr” te werk toe dit in 2004 geland het. Enige tydperk daarna was ’n bonus. Die bonus was ook meer as ’n bonus omdat dit in die langer periode meer bewyse gekry het dat daar eens vloeibare water op Mars was – onder veel meer gunstige en minder suur omstandighede as wat hy in sy eerste drie maande gevind het. Dit impliseer omstandighede wat meer geskik sou wees vir mikroskopiese lewe.
Bronne: Nasa JPL hier, en Space.com

Groot asteroëde skuur by aarde verby
“Dit is net ‘n kwessie van tyd voor ‘n asteroïde wat die potensiaal het om lewe op aarde op sy kop om te keer, met moeder aarde gaan bots,” aldus kenners soos aangehaal deur Standard Digital, na aanleiding van ‘n groot asteroïde wat onlangs by die aarde verby getrek het. Die asteroïde, genaamd 2014-YB35 is na raming net minder as ‘n kilometer wyd en het sowat 4,7 kilometer van die aarde verbygetrek.
Intussen het Nasa bekend gemaak dat nou beplan word om ‘n groot rotsblok van ‘n asteroïde se oppervlak op te tel en in ‘n wentelbaan om die maan te plaas waar dit deur ruimtemanne besoek en bestudeer kan word. Nasa beplan om teen 2019 aan te kondig van watter asteroïde die rotsblok af gelig sal word. Die operasie self word vir die middel van die twintigerjare beoog.
http://www.standardmedia.co.ke/article/2000156019/huge-asteroid-is-on-near-collision-course-with-earth/
http://www.nasa.gov/press/2015/march/nasa-announces-next-steps-on-journey-to-mars-progress-on-asteroid-initiative/#.VRkEd44qXLU

Suid-Afrika straks status van grootste impakkrater kwyt

Die Vredefortkoepel is nie meer die grootste bevestigde impakkrater ter wêreld nie, nadat ’n nog groter impakkrater in Australië ontdek is.

Die Vredefortkoepel is 298 kilometer in deursnee, ’n raps groter as die Sundburykrater in Kanada wat 250 kilometer in deursnee is.

Die Australiese krater is sowat 416 kilometer in deursnee. Die impakkater, sowat 700 kilometer noord van Adelaide, is reeds verlede jaar ontdek, maar sy grootte is toe op sowat 200 kilometer in deursnee beraam. Verdere ondersoeke het pas aan die lig gebring dat die nuwe krater uit twee dele bestaan, elk met ’n deursnee van sowat 200 kilometer. Die wetenskaplikes vermoed die asteroïde wat meer as 300 miljoen jaar gelede daar in die aarde vasgevlieg het, het oomblikke voor die impak in twee dele verdeel. Elke deel was vermoedelik meer as tien kilometer in deursnee.

Daar is op die oppervlak van die aarde egter geen teken van die krater nie, wat weens tydsverloop nou sowat 2 kilometer ondergronds is. Die omgewing staan as die Cooper Basin bekend.

Die spore van die krater is ontdek toe ontledings gedoen is van rots wat tydens geotermiese toetse diep uit die aarde gehaal is. Glasagtige vervormings het verklap dat dit eens aan groot hitte blootgestel was.

Die Vredefortkoepel is na raming twee miljard jaar gelede gevorm. Hoewel die krater self lank reeds weggeërodeer het, kan die oorblyfsels nog op die oppervlak nog gesien word van die gesmelte rotsmassa wat in die krater teruggestoot het.

Foto: Mikroskopiese bewyse van die impakkrater

The Telegraph, The Guardian,

China gaan vanjaar 40 tuie met 20 lanserings in ruimte plaas

China het aangekondig dat hy beplan om vanjaar ’n totaal van veertig tuie deur twintig lanserings in die ruimte te plaas. Die meeste sal kommunikasiesatelliete wees.

Die groot belangstelling is egter gerig op die lansering van die Yuanzheng 1, ’n sogenaamde ruimtebus wat op die uitgediende Amerikaanse pendeltuie trek. Die bus kan tien satelliete op ’n keer die ruimte inneem. Nog ’n eienskap van die bus is dat dit uitgediende satelliete uit nuttige bane kan haal en in sogenaamde begraafplaasbane kan plaas waar hulle uit die pad van dienende satelliete sal wees.

Lees meer in This is money

Nuwe tegnologie vir soeke na intelligente lewe in ruimte

’n Nuwe instrument om na intelligente lewe in die ruimte te soek, is in die Lick-sterrewag in San José geïnstalleer.

Die nuwe instrument sal vir die eerste keer na seine en boodskappe in die infrarooi-spektrum soek. Die navorsers meen dat infrarooi ’n uitstekende manier bied om boodskappe deur die ruimte te stuur. ’n Kragtige infrarooi-laser kan die uitstraling van ’n ster klop, al is dit net vir ’n breukdeel van ’n sekonde, terwyl lig in hierdie spektrum ook nie so maklik deur gas en stof in die ruimte gestuit te word.

Wetenskaplikes soek al langer as vyftig jaar na radioseine uit die ruimte, maar instrumente wat infrarooi kan opvang is onlangs eers ontwikkel.

Lees meer in Astronomy.com hier

Ons is sterstof – nou bevestig

Dis is lank reeds bekend dat bykans alle materie – lewend sowat as anorganies, afkomstig is van molekules wat in die verbrandingsproses van sterre en super-novas afkomstig is. Wanneer hierdie hemelliggame aan die einde van hul lewe kom en ontplof, word stof in die ruimte vrygestel, en nuwe sterre en planete gevorm, maar nou met elemente soos koolstof en yster.

Tot dusver was dit egter moeilik om die hoeveelheid stof wat in die vroeë heelal te verklaar, omdat geglo is dat ‘n sogenaamde teruglaan-effek van ‘n ontploffende supernova feitlik alle vrygestelde stof sou vernietig.

Navorsing wat nou aan boord van die Sofia vlieënde sterrewag aan boord van ‘n makro-straler gedoen is, het egter vasgestel dat tussen sewe en twintig persent van die sterstof die terugslag oorleef. Hul bevindings is pas in die Journal for Science gepubliseer.

Meer kan gelees word in die Christian Science Monitor

 

Steeds baie vrae oor begraafplaas met miljoen mummies

Dertig jaar na begin is om ’n reuse Egiptiese begraafplaas te ondersoek wat meer as ’n miljoen gemummiefiseerde oorblyfsels bevat, is wetenskaplikes steeds oor baie van die vondste in die duister.
Die begraafplaas is meer as 1 500 jaar oud en dateer uit die periode toe Egipte in Romeinse besit was. Die oorledenes was gewone mense, waarskynlik dikwels arm, en hoewel probeer is om soveel as moontlik van die balsemproses toe te pas, is die mummufisering meer aan die droë woestytoestande as die balsemproses te wyte.
Onder die tergende vrae is waarvandaan soveel oorledenes kon kom. Die naaste dorpie destyds was heeltemal te klein om so baie dooies op te lewer.
Voorts blyk dit dat een van die mummies meer as twee meter (meer as sewe voet) lank was, en dubbel gevou moes word om in die graf te pas.
Voorts blyk dit dat blonde mense in hul eie sektor begraaf is, en so ook die rooikoppe. Verdere studie moet nog gedoen word om vas te stel of families hul eie sektore gehad het, en hierdie onderskeid dus aan familietrekke te wyte was.
Die volledige artikel Livescience kan hier gelees word.

Herman Toerien

Reuse swaard dalk dié van Ivan die Verskriklike

‘n Meter lange swaard wat reeds in 1975 onder ‘n boom begrawe in Siberië gevind is, kon volgens ’n nuwe teorie aan die Russiese tsaar, Ivan die Verskriklike behoort het. Ivan het van 1530 tot 1584 geleef.
Siberië is in die tyd van Ivan onder Russiese beheer geplaas. Hoewel Ivan self nie in Siberië aan gevegte deelgeneem het nie, is dit baie moeilik om enige ander logika te vind oor hoe so ’n kosbare swaard so diep in Siberië gevind is.
Wat wel duidelik is, is dat die swaard in sentraal-Europa, waarskynlik in die huidige Duitsland gemaak is, en toe na Swede geneem is om met ‘n silwer handvatsel toegerus te word. Daar is ook inskrywings in die Nordiese runeskrif van Latynse geestelike verse op die lem aangebring.
Een van die navorsers in Novosibirsk waar die swaard bewaar word, Vyacheslav Molodin, het nou ’n teorie ontwikkel dat Ivan die Verskriklike die swaard as geskenk kon gegee het aan die Kosakke-leier, Yermak Timofeyevich, wat gehuur was om Siberië namens Rusland te verower.
Die volledige verslag in The Siberian Times kan hier gelees word. Ivan swaard

Antieke rotskuns in Sydney-voorstad gevind

Antieke rotskuns wat tienduisende jare oud kan wees, is onder ’n rotsskuiling in ’n voorstad in Sydney, Australië gevind. Die rotskuns is moontlik voorheen vir graffiti aangesien, en het so bewaar gebly.
Die skuiling is gevind toe ’n span van Sydney Water na ’n tradisionele vishoek gaan kyk het by ‘n nabygeleë watergat. Die skuiling is goed versteek deur natuurlike bosse in die omgewing.
Een van die kenmerkende kunsvorme in die skuiling is die sogenaamde “handstensil.” Na duisende jare is die veelkleurige agtergrond verweer, en kan dit maklik vir graffiti aangesien word. Die kleureffek kan grootliks deur spesiale fotografiese tegnieke weer gesien word. ‘n Tekening van ‘n paling toon ook die verwantskap tussen die skuiling en die watergat.
Op die foto bo kan gesien word hoe die rotskuns nou vir die oog lyk. Onder is die oorspronklike natuurlike kleure deur spesiale fotografiese tegnieke “herstel”.
Meer in ABC News kan hier gelees word. aborigene-kuns

Hoe belangrik is Philae se ontdekking van organiese molekules op komeet?

Die kort antwoord is: Baie belangrik. Maar die ophef wat in sommige media daaroor gemaak is dui op groot onkunde oor wat die term “organiese materiaal” beteken, en tot die Europese Ruimte-agentskap meer besonderhede oor die samestelling van die organiese molekules verskaf, is terughoudendheid die beste.

Op skool word geleer van organiese en anorganiese materiaal, met die verskil dat organiese materiaal deel van ’n lewende organisme is of was.

In die rumtewetenskap beteken organiese materiaal bloot materiaal wat koolstofatome bevat, en daar is al tevore vasgestel dat hierdie soort materiaal wydverspreid in die heelal voorkom. Dit hou nie noodwendig met lewe verband nie – metaan is byvoorbeeld ook organies, maar het nie noodwendig ’n verbintenis met lewe nie.

Sou dit blyk dat die organiese materiaal wat Philae op die komeetkern ontdek het, ’n komplekse samestelling soos aminosure het, is daar werklik rede tot groot opgewondenheid.

Die voortydige opgewondenheid spruit daaruit dat wetenskaplikes meen dat toestande op die toe nog jong aarde nie bevorderlik was vir die ontstaan van die komplekse soort organiese materiaal wat nodig was om lewende organismes te ondersteun nie. Baie het toe na die ruimte gekyk as moontlike bron om dié soort materiaal na die aarde te bring, en komete en asteroïde het die vernaamste kandidate geblyk te wees. Sommiges glo byvoorbeeld dat in die ooreenstemmende tydperk, was toestande vir die ontstaan van die nodige organiese materiaal op Mars ideaal onder meer weens die geringe swaartekrag, en dat van hierdie materiaal op meteoriete van Marsrots na die aarde gereis het. Verskeie meteoriete wat van Mars kom is inderdaad al op aarde gevind.

Die Europese Ruimte-agentskap se kriptiese aankondiging is dus gou deur pseudo-wetenskalikes en joernaliste uit verband geruk.

Bronne: IFL Science hier, Io9 hier, en University Today hier.

Ruimtenuus vir Sterre en Planete

Richard Branson, grootbaas van Virgin Galactic, sê sy ruimtedrome is nie met verlede week se ongeluk van SpaceShip Two vernietig nie. Die mede-vlieënier is dood en die vlieënier erg beseer toe SpaceShip Two tydens ’n toetsvlug Vrydag oor die Mojave-woestyn in Californië neergestort het.

Branson het onlangs aangekondig dat sy maatskappy gereed was om “binnekort” met ruimtereise vir toeriste te begin. Kaartjies van $250 000 elk is reeds te koop, en destyds was 500 reeds verkoop.

Voorlopig lyk dit of die ruimteremme te gou gewerk het voor die tuig sy verlangde spoed bereik het. Volgens sommige bronne kan die ondersoek tot twee jaar duur.

SpaceShip Two is deur ’n abba-tuig, WingKnight Two hoog die lug ingeneem. Die twee tuie is toe ontkoppel. Kort na SpaceShip Two se vuurpyl ontbrand het is ’n anomalie bemerk. Volgens ooggetuies het dit gelyk of die vuur[yl ontbrand, en toe ophou, en weer ontbrand. Die tuig het hierna uitmekaar begin breek.

SpaceShip Two is ontwikkel om passasiers tot ‘n hoogte van 100 kilometer te voer net onder wentelbaanhoogte. Hoewel ‘n volle omwenteling om die aarde nie voltooi sal word nie, sal die passasiers ‘n paar minute lank gewigloosheid kan ervaar, en ook die aarde teen die swart agtergrond van die ruimte kan besigtig.

Dit is die tweede ramp binne enkele dae wat privaat ruimte-ondernemers tref.

Vroeër die week het ’n Antares-vragtuig met voorraad vir die Internasionale Ruimtestasie aan boord, tydens opstyging ontplof. Die tuig behoort aan Orbital Science Corporation.

Nog ‘n maatskappy, XCOR Space Expeditions, beoog soortgelyke vlugte as dié van Virgin Galactic. Dié maatskappy beoog om eers aan die einde van volgende jaar ruimtetoeriste aan boord sy Lynx Merk 2 te neem, maar het onlangs die oë laat rek toe dit ‘n kaartjie vir ’n kolhou tydens die Nederlandse Ope geborg het.

Bronne: Space.com, Trouw, Nasa

 

Die Europese Ruimte-agentskap het pas die vyfde jaar in die ruimte van ‘n besondere satelliet, die Praba 2 gedenk. Hoewel minder ‘n kubieke meter groot, het dié buksie drie verskillende missies aangepak. Die tuig moes eerstens sekere tegnologie op die proef stel, toe as son-observatorium dien, en daarna as platform dien vir ruimteweer. Dit wentel sowat 725 kilometer bo die aarde.

Die Europese Ruimte-agentskap het intussen aangekondig dat die agentskap nou, na ‘n ooreenkoms met die US Strategic Command, in staat is om beter ontwykingsmaneuvers uit te voer om satelliete uit die pad van ruimterommel te hou.

Die volledige berig kan hier gelees word.

 

Die reine waarheid en ander liegstories

Dit is amper Kersfees en die kopkrap oor wat om vir iemand te koop is voor die deur. Dink dan gerus daaraan om Die Reine Waarheid en ander liegstories, aan te skaf. Die grondslag vir hierdie bundel is gelê toe ek na my pa se dood in 1977 begin het om veral sy Namakwalandse stories na die beste van my vermoë te rekonstrueer en op te teken. Later het ander kontreistories uit ander dele van die land gevolg, en so ver moontlik, met ‘n humor-inslag. Dit is net as e-boek beskikbaar. Meer besonderhede, ook oor waar dit aangeskaf kan word, kan op my skrywersblad by http://www.boekemakranka.co.za/Herman.htm bekom word. Baie dankie

Herman Toerien

 

Mielies voor Columbus na ou wêreld

‘n Berig in die Jakarta Times waarin byna terloops genoem word dat versteende mielies saam met versteende rys in die oorblyfsels van ‘n mandjie op die eiland Java gevind is, begin geleidelik oor die wêreld opslae maak.
Die algemene aanvaarding was dat mielies eers die ou wêreld bereik het na Columbus die Nuwe Wêreld herontdek het.
Die versteende mielies is teen die hange van Berg Sindoro in Sentraal-Java gevind, en dateer uit die era van die antieke Mataram-koninkryk, en wat tussen die agste en tiende eeu na Christus gekweek is.
Verskeie voorwerpe van elders, veral China, is ook op die terrein gevind.
Die Indiane van Meksiko het die mielie duisende jare gelede uit die teosinte-plant geteel, van waar dit na Noord- en Suid-Amerika versprei het.
Dit is reeds bekend dat Noormanne van Groenland die kus van Noord-Amerika meer as ‘n duisend jaar gelede bereik het, en ook die eerste Christen-kolonies in die gebied wat hulle Vinland genoem het, gestig het. Dié kolonisasie was egter kortstondig toe Groenland weens ‘n klein ystydperk ontruim is. So ver bekend het die Noormanne slegs ‘n Amerikaanse mossel as kos na Noorweë teruggeneem het.
Hierteenoor is dit al duideliker dat die Polinesiërs die aartappel as stapelvoedsel begin gebruik het voor die Spanjaarde Suid-Amerika, van waar dit kom, en die Polinesiese eilande bereik het. Die Inkas se hoenders toon ook genetiese verwantskap met die hoenders na die Maori’s.
Sou die vonds op Java inderdaad versteende mielies uit die agste tot die tiende eeu wees, sal dit baie stukrag verleen aan die opvatting dat handel tussen die Ooste en die Amerika’s voor die koms van Westerlinge minstens periodiek omvattend kon gewees het.
Die artikel in die Jarakta Times kan hier gelees word.

Paaseilanders het Suid-Amerika lank voor Columbus bereik – nuwe studie

Genetiese studies dui daarop dat inwoners van die Paaseilande lank voor Columbus aan Indiane blootgestel is, en hul genoom beduidend beïnvloed het.
Volgens die studie van Anna-Sapfo Malaspinas en Eske Willerslev van die Deense museum vir Natuurgeskiedenis wat in die vaktydskrif Current Biology gepubliseer word, het die blootstelling tussen 1280 en 1495 geskied.
Hulle meen dis meer moontlik dat die Polinesiese inwoners die 4 000 kilometer na Suid-Amerika en terug sou aflê, as dat mense van Suid-Amerika die Paaseilande, bloot ’n spikkeltjie in die oseaan, sou kon bereik.
Die genoomtoetse ondersteun vorige bevindings van Polinesiese kontak, soos dat die Polinesiërs die Andes-patat verbou het lank voor mense uit Europa die Amerikas bereik het. Voorts het ’n studie van twee skedels van die Botocudos-stam in Braslilië getoon dat hulle slegs Polinesiese genoom, en geen Indiaanse genoom bevat nie.
Meer in Popular Archeology kan hier gelees word.
Die nuusverlaring kan hier gelees word.

Ruimtenuus

Ruimtenuus vir RSG se Sterre en Planete

 

Sowat 80 topleerlinge van Secunda is van gister 4 Oktober deel van ’n projek waartydens twee weerballonne van Vryburg af lanseer is as simulasie van die lansering van ’n satelliet, sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA) in ’n verklaring. Dit maak deel uit van die viering van Wêreld-ruimteweek, en is ’n gesamentlike projek van SANSA en die Secunda radio-amateurklub.

SANSA het ’n mobiele opsporingstasie by Secunda opgerig sodat die vordering van die ballonne gevolg kan word. SANSA sal self van die data wat ingesamel word benut.

Wêreld Ruimteweek het op 4 Oktober begin en eindig weer op 10 Oktober.

Meer besonderhede kan hier gelees word.

 

Die suksesvolle plasing van ’n Indiese tuig verlede week in ’n wentelbaan om Mars maak van Indië die eerste Asiatiese land wat die prestasie met sukses kon vermag, nadat Japan en China se pogings voorheen misluk het. Selfs Rusland kon die laaste 20 jaar nie daarin slaag om ’n tuig suksesvol in ’n baan om Mars te plaas nie.

Boonop het Indië dit spotgoedkoop reggekry met ’n begroting wat kleiner is as die begroting vir die maak van die rolprent, Gravity.

Die tuig staan as die Mangalyaan, bekend, wat die Hindi-woord vir Mars-skip is.

Kort na Mangalyaan se aankoms by Mars het Nasa se tuig op Mars se oppervlak, Curiosty ’n woord van verwelkoming aan hom getwiet.

Die Indiese tuig sal Mars se atmosfeer vir die aanwesigheid van metaangas ondersoek. Sou dit gevind word, kan dit moontlik op die teenwoordigheid van mikroskopiese lewe dui.

Indië self het die prestasie met ‘n potjie gholf vergelyk, waartydens die speler met een dryfhou ’n kolskoot van Indië tot op ’n gholfbaan in Brittanje slaan.

 

‘n Satelliet van die Europese Ruimte-agenskap het met fyn metinge daarin geslaag om te bepaal dat daar ‘n klein afname in die aarde se aantrekkingskrag oor Wes-Antarktika was, wat met die afname in ysbedekking verband hou.

Die opname is van November 2009 tot Junie 2012 gedoen, en deur wetenskaplikes van die Duitse Geologiese Opnamesentrum ontleed. Die verminderde ysbedekking is akkuraat deur die satelliet, GOCE, se lesings weerspieël. Daar kom van plek tot plek geringe wysigings in die aarde se aantrekkingskrag voor wat onder meer met rotasie, die teenwoordigheid van berge en trôe in die see verband hou. Meer kan hier gelees word.

Herman Toerien

Ruimtenuus

Nasa se Maven-tuig (Mars Atmosphere and Volatile Evolution spacecraft) het Sondag in ’n wentelbaan om Mars gegaan om ontledings van Mars se atmosfeer te doen. Maar die tuig sal skaars by sy bestemming wees, of dit sal moet “koes” vir ’n komeet en terselfdertyd met sy toerusting ondersoek van die komeet moet doen.

In wat as ’n een uit ‘n miljoen kans beskryf word, word Maven se aankoms gevolg deur ’n baie nabye besoek van die komeet C/2013 A1 Siding Spring, wat net 135 000 kilometer van die rooi planeet verby sal skuur. Sou ’n komeet so naby aan die aarde kom, sou dit tussen die maan en die aarde, maar nader aan die aarde verbyskuur.

Maven, soos ander bestaande satelliete, sal dus so ver as moontlik aan die ander kant van die planeet moet gaan skuilhou. Die stof wat die komeet afgee, kan aansienlike skade aan satelliete aanrig, en Maven se projek kos juis $671 miljoen dollar.

Weens die seldsame geleentheid om ’n komeet van so naby te bestudeer, sal so veel as moontlik van die satelliete, Maven inkluis, egter tydelik hul instrumente op die komeet rig. Maven beskik byvoorbeeld oor ’n ultraviolet spektrometer.

Toe Maven ses maande gelede gelanseer is, was sy doel egter uitsluitlik om met ‘n ovaalvormige wentelbaan af en toe in Mars se atmosfeer te “duik” en daarvan te “skep” om dit met gevorderde toerusting te ontleed. Die wetenskaplikes wil graag weet hoekom Mars se atmosfeer honderde miljoene jare gelede omstandighede gunstig vir mikroskopiese lewe kon onderhou, soos vloeiende water, maar nou is die druk van die atmosfeer net een persent van dié van die aarde en te dun om enige lewe te onderhou. Bestaande teorieë, soos dat die magneetveld min of meer verdwyn het en die atmosfeer daarom deur die sonwind weggewaai is, sal getoets kan word.

Die aankoms en plasing in ’n wentelbaan om Mars sal outomaties gebeur, aangesien dit meer as twaalf minute neem vir seine om van daar die aarde te bereik.

Meer in die Christian Science Monitor kan hier gelees word.

Nasa se jongste nuusverklaring kan hier gelees word.

 

Die vrag voorraad wat Space X se Dragon-tuig Sondag na die internasionale rumtestasie gelanseer het, sluit ‘n 3-D-drukker, 20 muise en ‘n X-straalmasjien in. Die doel is die invloed van gewigloosheid op die beendigtheid van die muise te toets. Die vragkapsule sal die ruimtestasie na verwagting Dinsdag bereik. Die lansering het vlot verloop.

Volledige berig in Space.com kan hier gelees word.

 

Hoë resolusiebeelde van satelliete toon dat vyf van Sirië se ses wêrelderfenisterreine erg deur die burgeroorlog in die land beskadig is. Terwyl sommiges net beskadig is, is ander tot puinhope gereduseer.

Die beelde toon dat net die antieke stad van Damaskus onbeskadig is, maar die ontleders meen die kanse is nie uitgesluit dat daar wel ook skade is wat nie op die satellietbeelde gesien kan word nie.

Onder die beskadigde strukture tel onder meer die beroemde kruisvaardervesting, Crac des Chevaliers. Palmyra, wat volgens die Bybel deur Salomo in die Siriese woestyn gebou is, tel ook onder die beskadigde erfenisse.

Die ondersoek is gedoen deur die American Association for the Advancement of Science (AAAS) en verskeie vennote.

Die volledige nuusverklaring kan hier gelees word.

 

Die Japannese onderneming, Obayashi, wil teen 2050 mense en vrag die ruimte per hysbak inneem.

Die konsep van ’n ruimtehysak is lank reeds bekend waar van die aarde se draai om sy as as middelpuntvliedende krag gebruik gemaak sou word. Die geheim was om lang genoeg kabels hiervoor in te span.

’n Internasionale studie het in 2012 bevind dat so ‘n hysbak wel lewensvatbaar kan wees, maar deur internasionale samewerking.

Die beplande “hysbak” sal die mense en vrag na ’n nuwe ruimtestasie 96 000 kilometer bo die aardoppervlak neem. Die “voertuie” wat 30 mense op ’n slag sal kan vervoer sal deur magnetiese liniêre motore aangedryf word, en die reis na die ruimtestasie sal sewe dae duur – teen ’n fraksie van die koste om nou iets tot in die ruimte gelanseer te kry.

Die kabels word nou moontlik weens die ontwikkeling van koolstof-nanno-tegnologie. Hierdie kabels is ’n honderd keer sterker as staalkabels. In dié stadium bestaan die tegnologie nog net om drie sentimeter van hierdie kabels te maak, maar die probleem behoort teen 2030 oorkom te wees.

‘n Ruimtehysbak sal die gebruik van vuurpyle as manier om die ruimte te bereik heeltemal onnodig maak. Boonop kan enorme hoeveelhede sonkrag deur die kabels na die aarde teruggevoer word.

Obayashi het ook in Februarie 2012 ’n soortgelyke aankondiging gedoen. Toe is egter beplan dat die ruimtestasie veel laer, 36 000 kilometer bo die aarde, sou wees. Teen 200 kilometer per uur sou die reis steeds sewe dae duur. Die “teenwig sou egter steeds ongeveer 96 000 kilometer bo die aarde wees.

Meer kan hier in De Standaard gelees word.

Meer in ABC News kan hier gelees word.